Register  |  Log in 

Go to Treoc.com

June 28, 2009

DIE WÊRELD AGTER ONS WÊRELD

Filed under: Power of the Mind — Coert @ 7:03 am

Die onderstaande artikel van hoogstaande gehalte oor Afstandpersepsie en die krag van die brein is ‘n paar jaar gelede geskryf deur Dr. Nols de Bruyn. Alhoewel dit reeds ‘n paar jaar oud is, is dit ‘n onderwerp wat altyd toepaslik is.

Met ‘n blog soos Lightminded is dit nie moontlik om al die Microsoft Word funksies te gebruik nie. Ek het dus die skrywer se outomatiese kruisverwysings bietjie verander. Die notas word in [ ] vierkantige hakies in gewone syfers aangedui en die verwysings in Romeinse syfers. Aan die einde van die artikel is die lys van notas en verwysings.

Terloops, Dr Nols is ook ‘n stoere Treocian en mede aanbieder van Treoc se gewilde beleggingseminare

Geniet dit en laat ons julle kommentaar hoor!

Coert

——————————————————————-

DIE WÊRELD AGTER ONS WÊRELD
- WETENSKAPLIKE INSAE IN ‘N TRANSENDENTE WERKLIKHEID -
Dr GS de Bruin, 2001

Nothing could possibly escape the scrutiny of science forever…
Prof Courtney Brown
Emory Universiteit, Atlanta, VSA

Op 17 April 1995 het President Clinton van die VSA opdrag 1995-4-17 uitgereik. Volgens hierdie opdrag kon beperkte inligting oor ‘n hoogs-geheime Amerikaanse spioenasieprogram vir die eerste keer publiek gemaak word. Hierdie program het gebruik gemaak van “psigiese tegnologie” wat oor etlike dekades ontwikkel is…
In hierdie artikel word vertel van ‘n merkwaardige nuwe metode vir die inwin van inligting van oor die grense van ruimte en tyd. Dit behels ook die eerste kontroleerbare bevestiging.wetenskaplike van ‘n “wêreld agter hierdie wêreld”

Oor die skrywer

Dr GS (Nols) de Bruin (Ph.D.) is ‘n geesteswetenskaplike en neuro-fenomenoloog. Hy doktoreer in 2000 aan die Universiteit van Pretoria waarna hy opleiding ondergaan in Wetenskaplike afstandspersepsie onder leiding van prof Courtney Brown van die Emory Universiteit in Atlanta, VSA. Hy is ‘n navorsingsgenoot van die International Remote Viewing Association (IRVA).

Agtergrond

Tot laat in die Middeleeue was die mensdom se “kennis” grootliks ‘n vermenging van feit en fantasie. Die grondleggers van wetenskaplike denke het besef dat menslike vooruitgang deur die eeue gekniehalter is deur die vashou aan allerlei onbewese bygeloof. Die eerste wetenskapsfilosowe het daarom ‘n onderskeid begin tref tussen blote “opinies” en wat ons “feite” kan noem. Volgens die vaders van die wetenskaplike metode kon iets slegs as ‘n feit aanvaar word indien dit aan een of meer van die vyf sintuie bewys kon word. Hierdie “empiriese metode” het gevra dat iets gesien, gehoor, geproe, geruik of gevoel moes word voordat dit as werklikheid aanvaar kon word. Sintuiglike waarneming is in die wetenskaplike metode dus die voorvereiste gemaak om die werklikheid te kan ken.

Die wetenskaplike manier van dink het geweldig positiewe en verreikende gevolge vir die mensdom se ontwikkeling deur die volgende eeue ingehou. Dit het die tegnologiese ontploffing aan die hand gewerk en die mensdom bevry van vele van die negatiewe en beperkende invloede van sy onkunde en bygeloof. Omdat hierdie model slegs voorsiening kon maak vir natuurverskynsels wat fisies ondersoekbaar was, was ‘n newe-effek daarvan dat ‘n groot deel van die mensdom se ervaring wat op ‘n meer abstrakte of “spirituele” vlak geleë was, nie geakkommodeer kon word nie. Hoewel die teologie en die filosofie vir eeue die kern van menslike intellektuele aktiwiteit uitgemaak het, is die woord “wetenskap” deur die natuurwetenskappe vir homself toegeëien[1] . Natuurwetenskaplikes het geoordeel dat die natuur met sy “eksakte” wetmatighede, die enigste betroubare bron van kennis verteenwoordig. Die gevolg van die hierdie denkwyse (wat uiteindelik ’n dogma[2] sou word) was dat mense se eeue-oue intuitiewe en spirituele ervaring daarmee onder verdenking gebring is:

Die mensdom se godsdienste het hom oor duisende jare geleer dat daar ‘n “bo-natuurlike wêreld” agter ons sintuiglik-waarneembare wêreld bestaan. Hierdie “wêreld” is allerwee die transendente genoem (“dit wat daaragter is”). Daar bestaan in die wêreld se godsdienste ‘n groot verskeidenheid van opvattinge oor presies wat “daaragter” is: Dit wissel vanaf die bestaan van ‘n superieure Godheid tot ‘n ingewikkelde gode- en geesteswêreld waarin verskeie “spirituele” wesens as’t ware “agter die skerms” optree tot ‘n wêreld waarin die bestaan van die geeste van gestorwe mense en selfs diere aanvaar word. Wat ookal die aard van die “transendente” – die basiese bewussyn dat daar so ‘n “hinterland” bestaan, is vir eeue reeds universeel deel van die mensdom se intuïtiewe spirituele ervaring.

Aanvanklik is alle natuurwetenskaplike kennis “die Fisika” genoem – dus dit wat tot die domein van fisiese natuurverskynsels behoort. Die filosoof Immanuel Kant het die opvatting gevestig dat alles wat as “metafisika” (agter-die-fisika) bestempel kan word (abstrakte of spirituele dinge) nie ondersoek kan word nie en daarom nie as “wetenskap” (dus “wat-‘n-mens-kan-weet”) beskou kan word nie. Mense soos Kant sou egter nooit die bestaan van so ‘n werklikheid ontken nie. Dit is bloot beskou as nie volgens die wetenskaplike metode ondersoekbaar nie.

Mettergaan sou generasies natuurwetenskaplikes (en op hul voetspoor ook die groter Westerse mensdom) die natuurwetenskaplike posisie al hoe meer verabsoluteer. Die bestaan van ‘n metafisiese wêreld is later nie meer as alleen “onondersoekbaar” beskou nie, maar daar is eenvoudig (en sonder werklik goeie redes) aanvaar dat so iets nie bestaan het nie. Dit is beskou as uitgediende bygelowe - mites en fabels uit die mensdom se pre-wetenskaplike tydsgees[3] . Op dié wyse het die natuurwetenskap aanleiding gegee tot die geboorte van die sogenaamde materialisme[4] .

Tydens die hoogbloei van die wetenskaplike era was daar verskeie geleerdes wat die natuurwetenskaplike paradigma bevraagteken het. Die bekende filosoof Karl Jaspers het van die “mite van die wetenskap” gepraat en die teoloog Friedrich Schleiermacher was van die eerste godsdienswetenskaplikes wat die “transendentalistiese posisie” gepropageer het. Hy het in reaksie op die sieninge van Kant, die spirituele dimensie in ‘n wetenskaplike omgewing weer respektabel probeer maak. Schleiermacher het betoog dat spiritualiteit die gevolg van die mens se “intuïtiewe bewussyn” van ‘n transendente werklikheid is. Hy het geglo dat die mens oor ‘n soort intuïsie beskik oor die bestaan van so ‘n groter werklikheid. Die Duitse teoloog Rudolf Otto het later by Schleiermacher aangesluit. Hy het geglo dat dit nie alleen intuïsie was nie maar ‘n vorm van ingebore kennis (“genetiese geheue”). Otto het hierdie kennis ‘n “oertipiese bewussyn” genoem en die dieptepsigoloog Carl Gustav Jung, die “argetipiese kollektiewe onderbewuste” van die mensdom.

In meer resente tye het die baie prominente Duitse teoloog, Wolfhart Pannenberg, in navolging van die Jung[5] , aangevoer dat die materialisme op baie swak fondamente berus. Die mensdom het dit vir millennia makliker gevind om “spiritueel” te wees as om materialisties te wees. Die mensdom as kollektiewe persoonlikheid beskik oor baie meer “kennis” wat oor baie langer tydperke opgebou is as wat ‘n enkele persoon ooit oor kan beskik. Die kollektiewe kennis en ervaring van die mensdom as geheel dra ook baie meer gewig as die siening van ’n enkele individu. As die kollektiewe ervaring van die mensdom oor duisende jare in aanmerking geneem word, is dit baie meer voor die hand liggend om ’n transendente werklikheid ernstig op te neem as om dit nié te doen nie. Pannenberg het betoog dat daar eers bewys moet word dat- en waarom die legio getuienis wat die mensdom oor duisende jare aangaande die transendente werklikheid versamel het, ongeldig sou wees.

Die materialisme en die verabsolutering van die natuurwetenskaplike “sien-is-glo beginsel” word vandag as ‘n verbygaande era beskou (die era van die sg. “modernisme”). Die tyd wat ons tans ingaan (die “postmoderne era”) is ‘n era waarin al hoe meer wetenskaplikes tot die besef kom dat die natuurwetenskap in sy filosofiese basis positievisties was. Daar word in die groter wetenskaplike wêreld ‘n terugbeweeg ervaar na die erkenning van die bestaan van ‘n “spirituele” werklikheid en van die mens se wesenlike aard as spirituele wese. Dit word vandag ook al hoe meer erken dat mense se eeue-oue ervaringe van ‘n transendente werklikheid baie ernstiger opgeneem behoort te word.
In die mees onlangse geskiedenis het ‘n aantal verwikkelinge op die gebied van die wetenskap die vermoedens van geleerdes soos Schleiermacher, Otto en Pannenberg nie alleen bevestig nie, maar nuwe deure begin open vir die wyse waarop ons die werklikheid sien en verstaan. Hierdie artikel behandel bepaalde nuwe insae in ‘n transendente werklikheid. Waar daar aanvanklik uit die navorsing van die Nuwe fisika heelwat suggesties gevind is van ‘n “wêreld agter hierdie wêreld”, kom ‘n nuwe bydrae tot die verstaan van die groter werklikheid waarin ons leef egter uit ‘n heel onverwagse oord: Die Amerikaanse intelligensiediens!

Die mens se vermoë tot “alwetendheid”

Die mens het nou soos een van Ons geword deurdat hy alles kan ken…
Genesis 3:22

Die geskiedenis van Afstandspersepsie

Op 17 April 1995 het President Clinton van die VSA opdrag 1995-4-17 uitgereik. Volgens hierdie opdrag kon beperkte inligting[6] oor ‘n hoogs-geheime Amerikaanse spioenasieprogram na meer as twee dekades die eerste keer publiek gemaak word. Hoewel daar gerugte in omloop was dat die Amerikaanse regering van “psigiese spioene” gebruik gemaak het, was hierdie die eerste publieke erkenning van betrokkenheid by so ’n program[i].

Volgens die vrygestelde inligting het die Amerikaanse Sentrale Intelligensiediens (die CIA) reeds in 1972 ‘n navorsingsprojek begin om die moontlikhede van buite-sensoriese waarneming (ESP)[7] vir spioenasiedoeleindes te ondersoek. Die CIA het bewus geword van ‘n soortgelyke program van die Sowjet-unie waarin oënskynlik vanuit Rusland op geheime Amerikaanse militêre projekte gespioeneer is. Dit was tydens die hoogtepunt van die sg. “koue oorlog” tussen die twee supermoonthede. Die CIA se belangstelling was aanvanklik gemotiveer deur nuuskierigheid oor die effektiwiteit van sodanige tegnieke en om die mate van bedreiging wat dit ingehou het vas te stel. Daar was egter ook ‘n ambisie om nie “agter te raak” met ontwikkelinge wat in die USSR plaasgevind het nie.

Die CIA was bewus van die feit dat die meeste Westerse wetenskaplikes nie paranormale aangeleenthede soos psigiese verskynsels in hul wêreldbeeld sou kon akkommodeer nie[8] en was op soek na ‘n onafhanklike navorsingsfasiliteit waar ‘n hoogs-geklassifiseerde maar lae-profiel navorsingsprogram oor die saak geloods kon word. Hulle het te hore gekom van die navorsing van ‘n fisikus, dr Russell Targ, aan die roemryke Stanford Research Institute (SRI) in Menlo Park, Kalifornië[ii] . Targ se navorsing het gehandel oor ‘n vorm van ESP bekend as “Afstandswaarneming” (Remote viewing). Targ het die hipotese ondersoek dat die mens oor ‘n onderontwikkelde vermoë beskik om, met wat ons ‘n “geestesoog” kan noem, kennis te verkry van plekke en gebeurtenisse oor die grense van ruimte en tyd heen. Die SRI het nie alleen aan die vereistes van onafhanklikheid voldoen nie, maar die destydse direkteur van die SRI, dr Harold Puthoff, was ‘n voormalige intelligensieoffisier in die Amerikaanse vloot en dus die aangewese persoon om te nader vir so ‘n geklassifiseerde projek. Puthoff het ingestem om met dr Targ onder sy direkte leiding die navorsing te onderneem.

Targ het as deel van sy navorsing met enkele persone kennis gemaak wat oor psigiese waarnemingsvermoëns beskik het en reeds ‘n databasis van eksperimente met hulle opgebou. Een persoon, ‘n New Yorkse kunstenaar genaamd Ingo Swann, het bv. met groot akkuraatheid voorwerpe in ‘n toe kartondoos en simbole in koeverte kon identifiseer. Hy het in verdere eksperimente selfs daarin geslaag om die ingewikkelde konstruksie van ‘n reuse magnetometer van die Fisika departement by die SRI waar te neem en die interne samestelling daarvan te dokumenteer. Die magnetometer was geleë in ‘n kluis onder die vloer van ‘n gebou en heeltemal bedek in ‘n supergeleidende skild van lood, aluminium en koper.

Wat die aandag van die CIA ook aangegryp het was die gedokumenteerde (en gefotografeerde) demonstrasies van die psigiese waarnemingsvermoë van ‘n Amerikaanse polisieman met die naam van Pat Price. In sy demonstrasies van Afstandspersepsie het dr Targ die moontlikhede daarvan aan agente van die CIA vertoon deur dr Puthoff in ‘n motor te laat “ontvoer” na ‘n onbekende plek. Pat Price het in ‘n laboratorium by die instituut gesit en sy psigiese persepsie op die motor gefokus. Hy het in duidelike terme beskryf dat hy die motor by ‘n waterfront en ‘n vasmeerplek vir seiljagte kon sien. Wat asemrowend van die demonstrasie was, was nie alleen die feit dat die motor sonder enige fisiese kontak waargeneem is nie, maar dat Price dit reeds beskryf het een uur voordat die motor wel daar gearriveer het. Daarmee is onder gekontroleerde omstandighede aan die CIA geïllustreer dat Afstandspersepsie nie net akkuraat oor afstande gedoen kon word nie, maar selfs tyd kon transendeer.

Die CIA was so beïndruk met die resultate van die voorlopige eksperimente dat dr Targ en Pat Price gevra is om op eksperimentele basis vanuit ‘n laboratorium in Kalifornië teikens in die voormalige USSR te begin waarneem. In een so ‘n geval was die Intelligensiediens bekommerd oor aktiwiteite in ‘n dorpie met die naam van Semipalatinsk. Die Russiese regering het ‘n hoogs geheime ondergrondse fasiliteit hier opgerig waaroor geen inligting ingewin kon word nie. Suspisie was gewek deur fotos van bo-grondse aktiwiteite wat deur ‘n Amerikaanse spioenasiesateliet geneem is. Daar is vermoed (en gevrees) dat dit ‘n ondergrondse kernwapenaanleg kon wees. Price het verskeie tekeninge van sy psigiese indrukke van die teiken gemaak. Sy tekeninge van strukture en hyskrane bo die grond het in die fynste detail ooreengekom met wat deur die spioenasiesateliet gefotografeer is[iii] . Price het bevestig dat dit ‘n aanleg was waarin vuurpyl-wapentegnologie vervaardig is. Dit sou later bevestig word dat vuurpyle daar ontwerp en vervaardig is om dieselfde sateliet mee af te skiet wat die oorspronklike fotos geneem het. Die Amerikaanse Kongres het nie alleen vir die volgende twintig jaar navorsing in Afstandspersepsie by die SRI asook by die Science Applications International Corporation (SAIC), beide in Menlo Park, Kalifornië met groot somme geld gefinansier nie, maar ‘n psigiese spioenasieprogram van formaat op die been gebring.

Die CIA se aanvanklike probleem was die risiko waaraan hul agente blootgestel was – veral wanneer in vreemde lande geopereer is. Een van die mees riskante aspekte van ‘n intelligensieprogram is die terugkommunikeer van inligting na die hoofkwartier. Tegnologiese apparaat soos radiosenders het altyd die gevaar ingehou om ontdek te word. Die Intelligensiediens het ‘n behoefte gehad aan ‘n metode om inligting aan Washington, DC te kommunikeer sonder die gebruik van fisiese apparate. Hul oorspronklike idee was om ‘n soort psigiese “skakelaar” te ontwikkel wat ‘n agent in, sê Moskou, kon aktiveer om die Pentagon se aandag in die VSA te trek. Die agent kon dan inligting oordra volgens ‘n eenvoudige binêre kode deur slegs ja of nee antwoorde. Selfs indien ‘n spioen onder waarneming van die KGB was, sou dit nooit vasgestel kon word dat hy besig was om data te versend nie. Die ontwikkeling van so ‘n skakelaar sou egter nie baie ver gevoer word nie.

Nadat dit aan die Amerikaanse Kongres bekend geword het dat die CIA betrokke was by die plant van myne in hawens van Nicaragua[9] , het die CIA opdrag gekry om hul betrokkenheid by alle geheime projekte wat die potensiaal van “politieke verleentheid” ingehou het te beëindig. Dit het oënskynlik die CIA se betrokkenheid by psigiese oorlogvoering en die Afstandspersepsie-program ook tot ‘n einde gebring. Die program het egter voortgegaan, maar nou onder die vaandel van die Intelligensiediens van die Amerikaanse weermag - die sg. “Verdedigings Intelligensie Agentskap” (DIA). Die weermag was nie aan dieselfde soort politiek onderworpe as die CIA nie. Vir die weermag was die enigste doelwit die effektiewe uitvoer van ‘n opdrag. ‘n Spesiale en hoogs geheime “psigiese intelligensie-eenheid” is kort hierna by Ford Meade in Maryland gestig.

Waar die psigiese spioenasieprogram van die CIA afhanklik was van sg. “natuurlike psigici” soos Pat Price, was die weermag se eerste doelwit om ‘n effektiewe sisteem te ontwerp waarmee hul eie offisiere as afstandswaarnemers opgelei kon word. Die weermag wou nie alleen nie die lewens van siviele persone in gevaar stel deur hul betrokkenheid by intelligensiebedrywighede nie[10] , maar daar was teen hierdie tyd sterk aanduiding dat Afstandspersepsie deur bykans enige persoon aangeleer en bemeester kon word.

Die vroegste opleiding in Afstandspersepsie was gedoen in hipnose laboratoriums waar gepoog is om veranderde bewussynstoestande by deelnemers te bewerkstellig. Elektroniese toerusting is gebruik om ‘n aanduiding te gee van wanneer ‘n 180 grade polariteitsverskuiwing in breingolwe plaasgevind het. Dit sou normaalweg ‘n veranderde bewussynstoestand aandui. Nog ‘n persoon in die vertrek (bekend as die “fasiliteerder”) sou die waarnemer dan begelei om spesifieke teikens te ondersoek en ook notuleer wat gerapporteer is. Hoewel eksperimente wat op hierdie wyse gedoen is baie waardevolle data opgelewer het, was die akkuraatheid van die data nie noemenswaardig nie.

By die toonaangewende Monroe instituut (waar neurologiese navorsing op die menslike brein gedoen word) is in dieselfde tyd ‘n tegniek ontwikkel wat as “Hemi-sync” bekendstaan. Hierdie tegnologie is aanvanklik ontwikkel vir die behandeling van neurologiese siektetoestande soos epilepsie. Daar is met soniese apparaat verskillende frekwensies klankgolwe tussen die twee breinhelftes geresoneer toe, daar heel toevallig ‘n frekwensie in die menslike brein ontdek is wat by pasiënte ‘n toestand van bewussyn tot gevolg gehad het wat oënskynlik toegang verleen tot ‘n “alternatiewe bestaanswerklikheid”. Verskeie pasiënte het begin rapporteer dat hulle dinge in hierdie bewussynstoestand kon “sien”. Navorsing het gou getoon dat dit nie slegs ‘n hallusinasie- toestand was nie maar iets reëel en herhaalbaar. Die Hemi-sync-tegnologie is aanvanklik ingespan omdat dit offisiere onder opleiding as’t ware met die “druk van ‘n knoppie” afstandswaarnemers gemaak het[11] . Later meer oor hierdie tegnologie en die navorsing van die Monroe instituut.

Teen 1982 is by die SRI verskeie deurbrake in die navorsing oor Afstandspersepsie gemaak. Daar is bv in samewerking met Ingo Swann daarin geslaag om ‘n stel prosedures bekend as “protokols” saam te stel aan die hand waarvan militêre inligtingsoffisiere die tegnieke van Afstandspersepsie effektief geleer kon word. Die wyse van Afstandspersepsie wat met die hulp van Swann ontwikkel is het bekend geword as “Koördinaat-afstandspersepsie”[iv] . Dit het gebruik gemaak van fisiese geografiese koördinate en was veral geskik vir aanwending in militêre intelligensie. Die data wat op hierdie wyse ingevorder is het verstom oor die betroubare aard daarvan en veel beter kontroleerbare akkuraatheid is verkry as wat aanvanklik met “natuurlike waarnemers” bereik is. Swann is dan ook later gekontrakteur om verskeie wetenskaplike navorsers asook militêre intelligensie personeel in die tegniek op te lei.

Die Amerikaanse weermag het na die suksesvolle opleiding van ‘n eie span “psigiese spioene” ‘n hoogs geheime spesiale eenheid (‘n sg. “swart” eenheid met die kodenaam Detachment G) op die been gebring. Dit was hierdie eenheid se opdrag om deur middel van psigiese intelligensie die mees geheime militêre projekte van die vyande van die VSA te penetreer. Dit was gou duidelik dat inligting wat die eenheid ingewin het van soveel waarde was dat dit in die beste belang van die weermag was dat navorsing oor en die gebruik van psigiese intelligensie verder befonds en uitgebrei word. Dit was ook van kardinale belang dat die navorsing uiters geklassifiseerd bly. Omdat verskeie privaat navorsers en personeel aanvanklik by die Afstandspersepsie-program betrokke was, het gerugte oor die program die rondte gedoen. Die weermag het derhalwe in die laat tagtigs besluit om hul psigiese spioenasieprojek “amptelik” tot ‘n einde te laat kom[12] . Die resultate van die program tot op daardie stadium was egter reeds bo verdenking.

Dr Harold Puthoff skryf oor die werk wat by die SRI gedoen is: “Despite the ambiguities inherent in the type of exploration covered in these programs, the integrated results appear to provide unequivocal evidence of a human capacity to access events remote in space and time by some cognitive process not yet understood.”[v]

Dr Puthoff noem dat Afstandspersepsie met groot sukses aangewend is vir die opspoor van ontvoerde persone, mobiele eenhede, vliegtuie[13] wat neergestort het en persone wat gyselaar geneem is. Hy noem ook voorbeelde van inligting wat met Afstandspersepsie ingewin is en op die hoogste vlakke vir die vorming van politieke beleid aangewend is: Dit het onder andere die tydsberekening van ondergrondse kerntoetse en die toets van kernvuurpyle deur vreemde moondhede behels. Op ‘n stadium was dit beleid dat Amerikaanse kernvuurpyle op gereelde basis tussen verskillende ondergrondse silos geroteer word sodat vyande van die VSA nooit presies sou weet watter silos geaktiveer is nie. Daar is aangetoon dat daar ‘n groot mate van bedreiging vir hierdie vuurpyle bestaan het synde die presiese posisie daarvan deur vyande van die VSA vasgestel kon word deur middel van Afstandspersepsie.

Inligting oor die mees resente Afstandspersepsie-projekte van die VSA is steeds hoogs-geklassifiseerd, maar mens kan aanvaar dat die psigiese intelligensievermoëns van die Amerikaanse weermag vandag ongeëwenaard is. Tydens die Golf-oorlog aan die begin van die 1990’s is dit die eerste keer in aksie toegepas en is daar suggesties dat inligting wat op hierdie wyse ingewin is van deurslaggewende belang vir die identifisering van teikens en die opspoor van gyselaars was[14] . Daar is beslis ook meer regerings wat vandag met hoogs-geheime psigiese intelligensie-eenhede opereer.

“Wetenskaplike afstandspersepsie”

Die ontwikkeling van militêre tegnologie het nog altyd positiewe gevolge ingehou vir vreedsame aanwending. In ‘n poging om die metode meer geloofwaardigheid as bron van militêre intelligensie te gee, is astronomiese somme geld deur die Amerikaanse regering bewillig vir navorsing oor- en die verfyning van die tegnieke van Afstandspersepsie. Hierdie navorsing is aanvanklik grootliks deur siviele wetenskaplikes onderneem wat na die deklassifisering van die projek ook in ‘n baie gunstige posisie was om die tegnieke vir die wetenskap toepaslik te maak. In hierdie omgewing het dit gou geblyk aanwendingsmoontlikhede te hê wat ver verby die oorspronklike militêre verwagtinge gestrek het.

Naas die reeds genoemde navorsingsprojekte van die sg. Remote Viewing Lab van die SRI In¬ternational (voorheen die Stanford Research Institute) onder die leierskap van dr Harold Puthoff was daar ook siviele navorsingsprojekte oor Afstandspersepsie. Die prominentste hiervan is waarskynlik die werk van prof Robert Jahn van die Princeton Universiteit se PEAR (Princeton Engineering Anomalies Research) laboratorium[15] . Deur die gekombineerde resultate van hierdie inrigtings is die praktiese aanwending van Afstandspersepsie tot so ‘n mate verfyn dat dit vandag as ‘n baie bruikbare metode vir die inwinning van wetenskaplike navorsingsdata gebruik kan word.
‘n Professor in politieke sosiologie aan die Emory Universiteit te Atlanta, prof Courtney Brown[16] , was van die eerste wetenskaplikes wat die moontlikhede van Afstandspersepsie vir die inwinning van wetenskaplike data raakgesien het. Prof Brown het sy opleiding in Afstandspersepsie by prominente militêre afrigters ontvang en ook by die Monroe instituut. Hy het die protokols van militêre Afstandspersepsie in 1996 begin toepaslik maak vir die inwinning van wetenskaplike navorsingsdata. Die Afstandspersepsie-prosedures wat hy gebruik staan vandag bekend as “Wetenskaplike afstandspersepsie”. Dit is ‘n vorm van Afstandspersepsie wat gebaseer is op die nuutste militêre weergawe. In die laat 1980’s is die beperkende prosedures om streng geografiese koördinate te gebruik geëlimineer. ‘n Verdere interessante uitbreiding van Afstandspersepsie was die ontwikkeling van protokols om ook vir “telepatiese inluister” en selfs “kommunikasie” voorsiening te maak. In wetenskaplike Afstandspersepsie is hierdie nuutste protokols ingebou maar met ‘n metodologiese struktuur wat strenger op kontroleerbaarheid ingestel is. Die militêre weergawe van Afstandspersepsie is ook verfyn om vir die insameling van groter hoeveelhede en meer verskillende tipes data voorsiening te maak. Dit verskil natuurlik ook van die militêre vorm in die doel waarvoor dit aangewend word.

Die prosedures van Afstandspersepsie

Die data wat dmv Afstandspersepsie ontgin word, word meestal as intuïsie getipeer. Intuïsie is vir die meeste mense ontoeganklik en word hoogstens ervaar as ‘n vae aanvoeling (soos ‘n “voorgevoel” oor iets. Verskeie parapsigologiese navorsingsprojekte het al bevestig dat intuïsie inligting via ‘n onbekende “sesde sintuig” aan ‘n indiwidu beskikbaar kan maak sonder dat daar enige fisies-sintuiglike oordraging van daardie inligting plaasgevind het. Afstandspersepsie is dus moontlik op grond van ‘n parapsigologiese (of “psi”) aspek van die menslike psige wat teoreties moeilik verklaarbaar bly. Dit skyn asof alle mense ‘n aspek het wat bestaan in ‘n dieper werklikheidsdimensie en daarom inligting uit hierdie dimensie kan ontvang. Die sg. “sesde sintuig” kommunikeer oënskynlik ‘n subtiele stroompie data direk na die onbewuste synde stimuli via ons vyf fisiese sintuie dit totaal “oordonder”.

Afstandspersepsie is ‘n stel prosedures waarmee deur die “geraas” gebreek word en waarmee inligting uit die menslike onderbewussyn ontgin en op ‘n kontroleerbare wyse na die bewussyn oorgedra kan word. Dit sistematiseer as’t ware die “lees” van intuïsie en maak dit moontlik om enige tipe inligting oor bykans enige onderwerp en vanoor die grense van ruimte en tyd te bekom, dit akkuraat te rapporteer en dit daarna te analiseer. Die prosedures van Afstandspersepsie is daarop gemik om data wat via die onderbewuste kom, neer te pen sonder- en voordat die bewussyn geleentheid kry om daarmee in te meng deur prosesse soos rasionalisering en verbeelding. Hierdie bewustelike prosesse “besoedel” data en laat die akkuraatheid daarvan dramaties afneem.

Wetenskaplike afstandspersepsie fokus altyd op ‘n spesifieke “teiken”. Dit is trouens die enigste wyse waarop inligting op hierdie wyse ingewin kan word. ‘n Teiken kan byna enigiets wees waaroor spesifieke kennis ingewin moet word. Dit is tipies dinge soos plekke (bv. ‘n fabriek waar wapens vervaardig word), gebeurtenisse (soos ‘n moord) of spesifieke persone (soos ‘n politieke leier). Dit kan ook breër sake wees soos die kollektiewe opinie van ‘n sekere bevolkingsgroep oor ‘n spesifieke aangeleentheid. Die teiken is vir kontroleerbaarheid van inligting nie aan die waarnemer self bekend nie. Die waarnemer ontvang slegs numeriese koördinate van die teiken vanaf sy begeleier of “monitor”[17] . Die menslike onderbewuste weet (om ‘n ewe onverklaarbare rede) presies na watter teiken die spesifieke koördinate verwys.

Tydens ‘n Afstandspersepsie-sessie sit die afstandswaarnemer by ‘n tafel in ‘n stil vertrek en is by sy volle positiewe, hoewel in ’n ligte hipnotiese staat. Hy ontvang die teikenkoördinate (wat vir die bewussyn betekenislose syfers is) vanaf sy monitor[18] . Na ‘n tyd van intense konsentrasie begin psigiese indrukke van die teiken bekend as “seine” tot hom deurdring. Vir die doeleindes van Afstandspersepsie is ‘n soort snelskrif ontwerp wat die waarnemer in staat stel om inligting oor die teiken by wyse van sketse (bekend as “ideogramme”) vinnig en kripties neer te skryf sonder om enigsinds logies daaroor te “dink”. Die navorsingspan ontleed en interpreteer die ideogramme na afloop van ‘n sessie of ‘n reeks sessies saam met die waarnemer. Die identiteit van die teiken word ook eers op daardie stadium aan die waarnemer bevestig.

Dit is belangrik om te besef dat Wetenskaplike afstandspersepsie (hoewel die verskynsel steeds moeilik verklaarbaar is) in die aanwending daarvan lank reeds verby die eksperimentele fase is en dat dit hoogs-akkurate data oplewer. Die data is soos dit van enige ander wetenskaplike metode vereis word, heeltemal herhaalbaar. Enigiets wat waargeneem en gerapporteer is kan ook deur ander opgeleide afstandswaarnemers onafhanklik gekontroleer word. Prof Courtney Brown rapporteer dat akkuraatheid van tussen 95 en 100% by ervare waarnemers nie vergesog is nie.

Aanwendingsmoontlikhede van Afstandspersepsie

Naas die aanwending vir doeleindes van spioenasie op spesifieke projekte of persone vir die inwin van militêre inligting, het Afstandspersepsie oneindig baie moontlikhede. Prof Courtney Brown het dit reeds met vrug gebruik vir navorsing in die politieke-sosiologie. Die Emory Universiteit het heelwat van prof Brown se navorsing wat met Afstandspersepsie onderneem is, ook befonds. Ander voorbeelde van navorsing wat met behulp van Afstandspersepsie onderneem is en onderneem kan word, is baie kortliks die volgende:

• Historiese navorsing: Vir die doeleindes van geskiedskrywing en ‘n beter verstaan van die redes en omstandighede waaronder belangrike historiese besluite geneem is, en gebeurtenisse plaasgevind het, is Afstandspersepsie van historiese gebeurtenisse baie bruikbaar[19] . Dit is bv heeltemal moontlik om ‘n teiken soos die D-dag inval in Normandië tydens die Tweede Wêreldoorlog of belangrike toesprake van Adolf Hitler waar te neem. Omdat die groter wetenskaplike gemeenskap baie skepties oor data sal wees wat op sodanige wyse ingewin is, is dit natuurlik raadsaam om dit slegs aanvullend tot meer konvensionele navorsingsmetodes te benut en dit ook daarmee te kontroleer.

• Astronomiese navorsing: In April 1973 het Ingo Swann saam met prof Targ by die SRI die planeet Jupiter waargeneem. Op die deeglike rekords van die SRI het Swann gerapporteer dat hy vae ringe soortgelyk aan dié rondom Saturnus ook by Jupiter waargeneem het. Die bestaan van hierdie ringe was tot op daardie stadium aan astronome onbekend en is eers ses maande later deur NASA bevestig nadat die Pioneer ruimtetuig digby die planeet verbygevlieg het.
Afstandspersepsie is ook reeds met sukses aangewend op die volgende terreine:

• Die oplossing en bekamping van misdaad: Die sg. “Assigned Witness Program” (AWP)[20] werk sedert 1985 met opgeleide vrywilligers om die polisie in die VSA van inligting te voorsien oor misdaad wat op geen ander wyse bekom kan word nie. Afstandspersepsie word met groot sukses aangewend vir die naspeur van gebeure rondom misdaadtonele en die opspoor van verlore persone, lyke, goedere ens. Die inligting wat deur Afstandspersepsie bekom word kan uit die aard van die saak nie in die hof as getuienis gebruik word nie, maar plaas speurders dikwels op ‘n weg wat bruikbare bewyse en getuienis oplewer bv. deur die opspoor van ’n moordwapen[vi] .

• Handel en spekulasie in markte: Die korrekte voorspel van die beweging van die markpryse van aandele en geldeenhede is van kardinale belang vir persone wat handel dryf en spekuleer op hierdie markte. Dr Russel Targ vertel dat sy groep militêre waarnemers in tipiese militêre styl vir lang tye verveeld moes rondsit in afwagting van nuwe opdragte. In 1982 het hulle besluit om ‘n bedrag geld te poel en in verveelde tye begin om op die aandelebeurs te belê nadat die prysbewegings met afstandspersepsie voorspel is. Hulle het in ‘n kort tydjie en met ‘n 100% suksesrekord meer as $100 000 wins gemaak op silweraandele voordat hul “sameswering” aan die lig gekom en deur hoër offisiere stopgesit is.

Bewegings in markpryse word gedryf deur die psigologie van die groter groep en oorheersende emosies van hebsug en vrees. Gerald O’Donnell word beskou as een van die wêreld se 7 top tegniese kommoditeitsanaliste en maak onder andere van Afstandspersepsie gebruik om die groter markpsigologie en die “kwantum kollektiewe denke/emosies” van groter groepe handelaars akkuraat te “lees”. Spesiale opleiding in Afstandspersepsie word ook vir handelaars en spekulante aangebied[21] . Uit die aard van die saak is die etiek van sodanige metodes en die “onregverdige voorsprong” wat dit ‘n indiwidu as’t ware gee ‘n belangrike vraagstuk.

• Marknavorsing. Vir entrepeneurs wat ‘n nuwe besigheid wil begin of ‘n nuwe produk in die mark bekend wil stel, is deeglike marknavorsing essensieel. Afstandspersepsie skep heelwat nuwe moontlikhede om markte en markpotensiaal na te vors deur die kollektiewe behoeftes, welgesteldheid en ander demografiese inligting van ‘n spesifieke marksegment dmv afstandspersepsie waar te neem. Dit is dikwels essensieel om ook die markaandeel en suksesresepte van die kompetisie te ken. Afstandspersepsie is nie alleen ‘n baie koste-effektiewe metode om sodanige marknavorsing te doen nie, maar kan inligting oplewer wat op geen ander wyse ingewin kan word nie.

• Afstandsbeinvloeding: Op effe meer esoteriese vlak word baie interessante navorsing tans gedoen oor die moontlike beinvloeding van ‘n sekere invloedryke persoon of groepe persone se denke, oortuiginge en selfs keuses dmv afstandspersepsie. Daar is aanduidings dat “afstandsbeinvloeding” selfs oor tyd heen ‘n moontlikheid is. Dit sou die naaste wees wat die mensdom nog aan die “tydsreise” van wetenskapsfiksie kon kom. Dit sluit in die moontlike korreksie van verkeerde keuses en/of besluite van die verlede met die oog op die verandering van die hede. Daar is aanduidings dat ‘n afstandswaarnemer bv. in sy eie verlede kan verander aan oortuiginge wat hom bepaalde verkeerde besluite laat neem het. Op dié wyse kan ‘n persoon homself ook “deprogrammeer” van die effek van bepaalde negatiewe ervaringe uit sy verlede. Dit word selfs ondersoek of so ‘n indiwidu nie siektetoestande waaraan hy/sy mag ly kan help genees deur die oorsaak daarvan in die verlede te beinvloed nie.

• Die bestuur van menslike evolusie: Navorsing het reeds bevestig dat daar ‘n noue verbintenis bestaan tussen menslike denke en die DNS-struktuur (DNA in engels) wat aan nasate oorgelewer word. Dit is moontlik ‘n belangrike (vermiste) skakel onderliggend aan die voortgang van die evolusieproses. Dit word tans ondersoek of Afstandspersepsie kan bydrae tot die verbetering van die DNS-struktuur wat ‘n persoon aan sy nasate gaan oorlewer. ‘n Voorbeeld is “genetiese-geheue” soos ‘n spesifieke talent of ‘n aanleg wat aan nasate oorgedra kan word. Afstandspersepsie help ook aspekte van die mensdom se bio-denke (“bio-mind”) op spesie-vlak verklaar en verklaar bv. hoe evolusionêre wysigings gelyktydig aan die hele groep oorgelewer word (‘n misterieuse verskynsel bekend as “morfiese resonansie”).

Afstandspersepsie en Esoteriese aangeleenthede

We see what we believe, and not just the contrary; and to change what we see, it is sometimes necessary to change what we believe…
Jeremy Narby
Antropoloog

Hoewel die protokols van Afstandspersepsie vir werklike aardsgebaseerde teikens ontwerp en getoets is, is dit tans die enigste metode waarvolgens inligting ingewin kan word oor meer esoteriese aangeleenthede:

‘n Esoteriese vraagstuk waaroor die mensdom lankal wonder is die sg. VVV-verskynsel (“Ongeïdentifiseerde Vlieënde Voorwerpe”). Dit hou ook verband met die vraag na die bestaan van ander intelligente wesens in die heelal. Een van die prominente afstandswaarnemers van die vroeëre militêre projek (‘n persoon genaamd Lyn Buchanan[22] ) het onlangs met inligting vorendag gekom waaroor min veterane tot dusver iets wou sê. Hy vermeld dat hy en sy kollegas, sonder uitsondering, in die loop van hul werk bepaalde “kontak” met ekstra-terrestriële intelligensie gehad het. Die meeste van hierdie waarnemers het aanvanklik gladnie in die bestaan van sulke “wesens” geglo nie en was saam met hoëre militêre offisiere “gespook” deur die aangeleentheid[23] . Dr Courtney Brown het dmv Afstandspersepsie heelwat navorsing oor die VVV-fenomeen onderneem waaroor hy onder andere in sy boek “Cosmic Voyage” berig. Dr Brown se navorsing het aangedui dat die aarde deur minstens twee afsonderlike ekstra-terrestriële beskawings besoek word. Sy navorsing het ook opgelewer dat hierdie wesens ‘n soort interdimensionele ruimte okkupeer en daarom nie noodwendig in ons fisies waarneembare dimensie bestaan en waargeneem kan word nie[24] . Dit bevestig ook ‘n ou vermoede naamlik dat daar ‘n sterk moontlikheid bestaan van ‘n verband tussen mitologiese oorleweringe van antieke godsdienste (verskynings van “engele”, “geeste” en “hemelwesens”) en die VVV-verskynsel.

Op ‘n godsdienstige vlak rapporteer afstandswaarnemers dat hulle oor die algemeen ‘n geestelike verdieping ervaar het sedert hulle in afstandspersepsie begin praktiseer het. Dit oortuig van die feit dat elke mens se lewe deel van ‘n groter werklikheid uitmaak en dat ons bestaan ‘n groter betekenis het. Die feit dat Afstandspersepsie werk, is slegs verklaarbaar as ons aanvaar dat ons “spirituele” wesens is en oor ’n soort “siel” beskik. Afstandspersepsie laat opgeleide waarnemers ook met nuwe waardering kyk na die gawe van lewe en die ongelooflike potensiaal in die menslike onderbewuste…

Die fokus van hierdie artikel is die transendente werklikheid en watter insae Afstandspersepsie daarin bied:

Waarom werk Afstandspersepsie?

Deur die jare waarin Afstandspersepsie vir die gebruik in militêre intelligensie nagevors en verfyn is, was dit genoegsaam om te weet dat en op watter wyse Afstandspersepsie werk en hoe dit aangeleer kon word. Navorsing oor die waarom-vraag en ‘n poging om ‘n verklaring te bied vir die verskynsel is tot dusver baie afgeskeep. Die vraag na watter misterieuse, “metafisiese” realiteit in hierdie proses aan die werk is, kom tans op die voorgrond . Afstandspersepsie sou met die Swaartekrag-vraagstuk van die Fisika vergelyk kon word. Fisici kon bv. lankal reeds presies die werking van swaartekrag beskryf, voorspel en ook benut. ‘n Voldoende verklaring vir waarom swaartekrag hoegenaamd bestaan ontglip die Fisika egter steeds en was daarom lank reeds die fokus van geleerdes soos Albert Einstein en Stephan Hawking.

Geleerdes soos prof Courtney Brown doen tans baie navorsing oor wat hy die “wetenskap van bewussyn” noem in ‘n poging om ‘n teoretiese verklaring en beter wetenskaplike onderbou vir Wetenskaplike afstandspersepsie te bied. Brown is oortuig daarvan dat Afstandspersepsie oor die grense van ruimte en tyd heen, die bestaan van ‘n transendente dimensie bo alle twyfel bewys. Op geen ander manier sou die protokols van Afstandspersepsie soos wat dit oor en oor bewys is, kon “werk” nie.

Die verklaring van Afstandspersepsie is ‘n multidissiplinêre aangeleentheid waarin die insigte van verskeie wetenskappe tans op tipiese postmoderne wyse byeengebring word. Hier kom die kennis van die godsdienswetenskap en die insigte en intuïtiewe ervaringe van die mensdom se godsdienste oor eeue heen ook goed te pas[26] . Wat hierdie artikel wil belig is bepaalde nuwe wetenskaplike insae in ‘n transendente werklikheid en ‘n nuwe verstaan wat besig is om uit te kristaliseer oor die groter werklikheid waarin ons leef. Saam met die insae wat Afstandspersepsie in die bestaan en aard van ‘n transendente werklikheid bied, is die ontdekkings van die Nuwe fisika onontbeerlik omdat dit bydrae tot ‘n nuwe verstaan van konsepte soos ruimte en tyd. Ons kyk daarom kortliks eers na die insigte en ontdekkings van die Nuwe fisika:

Die bydrae van die Nuwe fisika

Die dramatiese ontdekkings van die Nuwe fisika is teen hierdie tyd redelik-bekende nuus[vii] . Fisici het die afgelope eeu bewus geword van die feit dat ons woon in ‘n heelal wat slegs op baie beperkte wyse deur ons bekende sintuie vir ons aangebied word. Die Teoretiese fisika is lank reeds bewus van die bestaan van heelwat meer “dimensies” as wat in ons alledaagse werklikheid waarneembaar is. Kwantum kosmoloë praat van die bestaan van “meerdere heelalle” en van ons werklikheid as ‘n “multidimensionele werklikheid”. Dit is spesifiek deur navorsing op die subatomiese vlak en met die vooruitgang van die kwantum kosmologie wat die meerdimensionele aard van ons werklikheid sigself begin manifesteer het:

Die vorige eeu het vir ‘n revolusie in die mensdom se verstaan van ons wêreld gesorg. Die dramatiese intellektuele omwenteling is begin deur die Duitse teoretiese fisikus prof Max Planck se atoomteorie (ook genoem die “kwantum hipotese”). Die kwantumteorie word allerweë as die wetenskap se grootse prestasie tot op hede beskou. Hierdie hipotese is reeds in die jaar 1900 gepubliseer. Planck se hipotese het daarop neergekom dat materie nie iets onafgebroke en solieds was, soos wat ons dit op die oppervlak waarneem nie, maar dat die wêreld uit triljoene submikroskopiese onderdeeltjies of “atome” bestaan. Die ongelooflike implikasies van die kwantum-hipotese vir die verstaan van die werklikheid, is later deur verskeie ander teoretiese-fisici ontwikkel. Naas die hipotese van Planck, was die werk van Albert Einstein van die grootste belang. Einstein se eerste teorie, die teorie van spesiale relatiwiteit, is net vyf jaar na Planck se atoomteorie gepostuleer. Hierin het hy aangevoer dat lig nie, soos fisici nog altyd geglo het, bestaan het uit golfies nie, maar dat dit eintlik ‘n sproeireën van atoompartikels is wat “fotone” genoem is. Na nog tien jaar het Einstein ook sy opspraakwekkende teorie oor algemene relatiwiteit voltooi. Hierdie werk sou vir ewig die mens se siening van ruimte en tyd verander.

Planck en Einstein moet as die vaders van die Nuwe fisika beskou word. Hulle werk het die einde beteken van die klassieke fisika en ‘n geloof in ‘n meganistiese heelal wat deur rigiede wette van oorsaak en gevolg beheer word en ook daarvolgens verklaar kon word. Die Nuwe fisika het ‘n mistieke en bisarre towerwêreld opgelewer waarvan ons vandag nog bitter min begryp. Hoewel hulle die baanbrekers daarvan was, was die paradigmaverskuiwing wat beide Planck en Einstein in hul denke moes ondergaan, selfs vir hulle te groot. Einstein het tot sy dood toe geglo dat die abstrakte werklikheid wat hy wiskundig in die subatomiese wêreld ontdek het, nie waar kon wees nie, en Planck het sy hipotese as “‘n daad van wanhoop” beskryf. Nogtans het die somme op hierdie manier alleen geklop, hoe surrealisties dit ookal geklink het. Dit wat deur die kwantum- en relatiwiteitsteorieë voorspel is, is sedertdien ook toenemend eksperimenteel bevestig. Die volgende ontdekkings is belangrik om van kennis te neem:

Die werklikheid word deur die waarnemer geskep

The observer is as essential to the creation of the universe, as the universe is to the creation of the observer.
John A Wheeler, Princeton.

Alle eksperimente wat op kwantumvlak gedoen word lewer ‘n towerwêreld op waar heeltemal onlogiese dinge gebeur. Onder ons soliede wêreld bestaan oënskynlik geen grondliggende werklikheid nie. Ons bowe-atomiese werklikheid wat volgens sulke rigiede fisiese wette bestaan, is saamgestel uit ‘n onwerklike mikrowêreld waar alles sonder sigbare oorsaak of rede gebeur. Hier word die gehele wêreld deur toevallige vreemdhede beheer:

Die Oostenrykse fisikus Erwin Schrödinger was ‘n baanbreker van die kwantumfisika. Hy het in 1935 van die spookagtigste verskynsels van die kwantumwêreld ontdek en dit probeer illustreer met die vergelyking van ‘n kat wat toegemaak word in ‘n donker kas. Schrödinger se hipotetiese kat het gewys hoe die logiese wêreld van oorsaak en gevolg waarop Newton se fisika gebaseer was, nie op die kwantumvlak bestaan het nie. In Schrödinger se illustrasie het hy ‘n fiktiewe kat in ‘n kas gesit en aangetoon dat die kat nie in lewe bestaan het tensy iemand die kas oopmaak en na die kat kyk nie. Die werklikheid moet dus eers gesien word om werklikheid te kan word. Dit is een van die beginsels van die Nuwe fisika waaraan die rasionalistiese wetenskap die swaarste sluk: Op kwantum-vlak is niks werklik nie, totdat iemand daarna kyk! Die resultate van Schrödinger se eksperimente was selfs vir hom so onwerklik dat hy gesê het: “Ek hou niks daarvan nie en ek wens ek het nooit daarmee te doen gekry nie”. Ook Einstein was opstandig oor Schrödinger se ontdekkings. Hy het sy laaste jare vrugteloos gespook om iets in die kwantumwêreld te probeer ontdek wat die absurde resultate van hul navorsing sou weerspreek. Maar helaas – meer as 65 jaar later is fisici dit eens dat die resultate nie verkeerd was nie.

Alles in die heelal is in verbinding met mekaar

In 1982 het Franse fisici onder leiding van Alan Aspect by die Universiteit van Parys ‘n stel toetse uitgevoer wat nog ontstellende resultate oor die kwantumwêreld bekend laat word het. Twee fotone is vanaf dieselfde bron in verskillende rigtings geskiet. Detektors was opgestel om die fotone waar te neem en hul polarisasie te meet. Omdat die fotone gelyktydig uitgestraal is, was hul polarisasie identies. Maar die oomblik wat een van die fotone deur ‘n detektor waargeneem is, het daar onmiddellik ‘n polarisasieverandering by die ander een plaasgevind. Die een foton is dus op ‘n misterieuse wyse beinvloed wat met die ander een gebeur het.

Fisici beklemtoon die effek van dié wonderwerk deur die twee fotone teoreties ligjare te gee om uitmekaar te beweeg voordat dit deur iemand waargeneem word. Dit sou een foton byvoorbeeld 815 jaar neem om die ster Rigel in die Orion-sterrebeeld te bereik (teen die foton se snelheid van 300 000 km per sekonde). Indien die foton dan deur iemand op ‘n planeet van Rigel waargeneem word, sou die ander een steeds onmiddellik reageer – hoewel die twee fotone dan 1630 ligjare uitmekaar sou wees. Die groot vraag is hoe die fotone so onmiddellik met mekaar kommunikeer? Geen boodskap sou op enige verstaanbare wyse versend kon word nie omdat niks volgens ons huidige verstaan van die Fisika vinniger as die snelheid van lig kan beweeg nie. Hoe weet die een dat daar ‘n polarisasieverandering by die ander plaasgevind het? Dit bevestig ‘n geheimsinnige en onverklaarbare holistiese eenheid waarmee die twee fotone met mekaar in verbinding gebly het, hoewel elk onafhanklik bestaan. Die eksperiment dui op ‘n soort verborge dimensie waarbinne die onsigbare eenheid funksioneer.

Heelwat moderne fisici[27] het al geskryf dat alles in die heelal letterlik aan mekaar gekoppel is. Die heelal bestaan uit ‘n trillende web waarin elke komponent deur ‘n misterieuse energie tot ‘n groter netwerk verbind word. Die intrinsieke verhoudinge tussen deeltjies maak dit deel van die groter werklikheid. En ingesluit by die hele netwerk is die gedagtes van die waarnemer. Die menslike bewussyn word volgens die kwantum-kosmologie deur ‘n holistiese benadering van die heelal verklaar. Vele subatomiese eksperimente het al bevestig dat die heelal beinvloed word deur ons waarneming daarvan. Sodra ‘n stelsel waargeneem word, is daar ‘n “gedragsverandering” wat plaasvind. Die enigste verklaring wat hiervoor gegee kan word is dat die gedragsverandering op een of ander wyse deur die menslike verstand bewerkstellig word! Ons denke en gedagtes is nie alleen deel van die kosmiese energienetwerk nie, maar in ‘n sekere sin determineerder en skepper daarvan!

Meerdere dimensies en parallelle heelalle

There’s not enough room in the three dimensions that we’re familiar with to accommodate all of the forces of nature…
Michio Kaku

Teoretiese fisikus

Dit word vandag algemeen aanvaar dat die driedimensionele ruimte van ons sintuiglike waarneming, aangevul word deur etlike onwaarneembare ruimtedimensies. In 1927 het Niels Bohr die kwantumwêreld beskryf. Hy het geskryf dat ons waarneming van ‘n werklike heelal misleidend is. Hy het wat hy in die kwantumfisika waargeneem het verklaar deur voor te stel dat ons werklikheid gelyktydig uit, wat hy genoem het, “meerdere heelalle” saamgestel is. Van hierdie heelalle bestaan net een op ‘n keer wanneer dit waargeneem word. Die hipotese is die Kopenhagen interpretasie genoem en is aanvanklik heftig aangeval. Vandag is daar etlike veelheelalteorieë wat almal uit die kwantumfisika voortgevloei het:

In die vyftigerjare het die fisikus Richard Feynman van die Kaliforniese Instituut vir tegnologie in ‘n reeks eksperimente met elektrone geïllustreer hoe elektrone optree as golfies wanneer dit nie waargeneem word nie, en as deeltjies wanneer dit wel waargeneem word. Sy waarnemings het as die tweegat-eksperiment bekend geword. Dit het in kort bevestig dat atoomdeeltjies ‘n soort dubbele bestaan voer. Elektrone is subatomiese onderdeeltjies (kwanta) en is as sodanig onverdeelbaar. Nogtans is spesifieke elektrone waargeneem om gelyktydig deur twee verskillende gate in ‘n skerm te beweeg. So ‘n elektron het dus die wette van die fisika oortree deur terselfdertyd op twee verskillende plekke te bestaan. Feynman het aansluiting gevind by Bohr se meerdere-heelal hipotese. Hy het voorgestel dat die heelal wat ons waarneem ‘n soort “basterheelal” is waarin twee verskillende heelalle klaarblyklik met mekaar inmeng. As die elektron deur een gat in die skerm gegaan het, ontpop daar een heelal en word die ander moontlike heelal uitgeskakel en omgekeerd.

In 1957 het Hugh Everett ‘n toets beplan waarmee subatomiese golffunksies gemeet kon word, toe hy ‘n merkwaardige ontdekking maak: Dit het gelyk of ‘n elektron gelyktydig ‘n hele aantal bane kan volg. Sodra die fisikus egter die elektron waarneem, ontdek hy dat dit een spesifieke baan volg. Omdat die wyse waarop alternatiewe bane uitgewis word hom verontrus het, het Everett begin vermoed dat die elektron in werklikheid wel al die ander moontlike bane ook volg – maar in ander heelalle of dimensies! Die meting het geblyk die heelal in genoeg ewebeelde van homself te laat verdeel sodat alle moontlike resultate daarvan in ‘n aparte dimensie in aanmerking geneem word. Everett se veelheelalhipotese het voorgestel dat die ondeterminisme van die kwantumwêreld ‘n veelvuldige werklikheid voortbring waar die kosmos sonder ophou in tallose parallelle heelalle sonder enige fisiese verband vertak. Hierdie kwantumdimensies is egter almal ewe werklik. Hulle bestaan parallel langs mekaar maar meng nie op makroskopiese vlak met mekaar in nie.

Die kwantum-fisika noem die heelal dikwels “gestruktureerde niksheid”. Vir enigiets om te bestaan moet dit egter op een of ander wyse “iets” wees, ‘n vorm van energie wat heeltemal onbekend volgens ons verstaan van fisiese wetmatighede mag wees. Wat op bowe-atomiese vlak as materie manifesteer is in die subatomiese struktuur daarvan bloot netwerke energie. Dit is nogtans waarneembaar in fisiese energiepatrone. Dit is ook op grond hiervan dat ander dimensies van ons werklikheid geïdentifiseer kon word. Die bestaan daarvan word verraai deur subatomiese kragvelde en energiepatrone.

Eksperimente wat op subatomiese vlak gedoen is het die bestaan van verskeie van hierdie dimensies verraai. Die bekroonde kwantum-fisikus Paul Davies[viii] skryf dat subatomiese deeltjies diepliggende simmetrieë vertoon. ‘n Studie van die verhouding tussen atomiese kragvelde en subatomiese partikels en simmetrieë, het die bestaan van minstens nog sewe dimensies geopenbaar. Hoewel die bykomende sewe dimensies nie op bowe-atomiese vlak waarneembaar is nie, word dit in submaterie as kragte gemanifesteer. Wat as die krag elektromagnetisme gemeet word, is byvoorbeeld in werklikheid ‘n onsigbare dimensie van ruimte.

Die “veelheelalhipotese” word vandag deur ‘n groot aantal prominente geleerdes aanvaar[ix] . In die moderne kwantum-fisika word deesdae meer algemeen van verskillende of meerdere dimensies, eerder as heelalle, gepraat. Dit blyk egter dat ons naas die drie dimensies wat deur ons sintuiglike waarneming aan ons bekend is, en indien tyd nie as ‘n vierde dimensie beskou sou word[28] , in minstens ‘n tiendimensionele heelal bestaan.

Die illusie van tyd

Ons weet almal wat ruimte is. Dit is iets objektiefs buite onsself. Ons kan ruimte waarneem met twee van ons sintuie – sig en tas. Ruimte is vir ons oë sigbaar as twee dimensies naamlik hoogte en breedte. Ons neem voorwerpe altyd iewers in ruimte waar as iets wat ‘n bepaalde hoogte en breedte het. Vir ons tas-sintuie is ‘n derde dimensie waarneembaar naamlik diepte. In werklikheid kan diepte nie gesien word nie. Die spasiëring van ons oë en ore het dit egter vir ons breine moontlik gemaak om hierdie dimensie ook sintuiglik te ervaar. Dit gebeur op grond van ons breine se vermoë om kennis te stoor oor die vorm en grootte van voorwerpe en dit dan in verband te bring met ‘n diepte-afstand ten opsigte van onsself. Dieselfde geld ook vir die intensiteit van geluide wat verraai hoe ver iets van ons af is. Diepte is dus grootliks ‘n aangeleerde dimensie.

Wat algemeen (en verkeerdelik) die “vierde dimensie” genoem word – nl. dié van tyd, is nie sintuiglik waarneembaar nie. Dit is ook nie, soos die drie bekende ruimtedimensies, iets objektiefs buite onsself nie[29] . Tydsverloop word alleen in onsself ervaar op grond van subjektiewe dinge soos gedagtes, herinneringe, emosies en ons self-bewussyn. Tyd is volgens Fisici dus nie ‘n fisiese verskynsel nie. Albert Einstein het gesê dat die verloop van tyd nog nooit deur enige fisika eksperiment opgespoor kon word nie en waarskynlik ook nooit opgespoor sal word nie omdat tyd bloot ‘n illusie is.

Dit was by uitstek die werk van Einstein in sy relatiwiteitsteorieë wat ons verstaan van tyd vir ewig verander het. Einstein het tyd tot een van die drie fisies waarneembare dimensies vereenvoudig in wat hy ruimtetyd genoem het. Ruimte en tyd is eintlik dieselfde ding of, anders gesê, twee gestaltes van dieselfde verskynsel of dieselfde verenigde struktuur. In die groot, buite-aardse heelal kan tyd en ruimte nie geskei word nie want daar is geen universele “hede” iewers in die ruimte ten opsigte waarvan ‘n “toekoms” en ’n “verlede” bepaal kan word nie. Daar is net ruimte en verder is alles teenswoordig en gelykstondig. As gevolg van ons begrensde en kortstondige bestaan, is dit vir ons moeilik om die kromming van driedimensionele ruimte te begryp, en daarby wat ons as ‘n vierde dimensie naamlik tyd ervaar[x] .

Oor wat as die verskynsel van tyd beleef word, het die Nuwe fisika nog ‘n paar ander eienaardige kenmerke duidelik laat word. Een wat vandag reeds eksperimenteel bewys is, is dat tydsverloop “gerek” en “gekrimp” kan word. Wanneer ruimtereisigers deur die ruimte beweeg, verloop tyd op hul horlosies effektief stadiger. Dit is al bereken dat, sou dit fisies moontlik wees om teen snelhede naby aan die van lig te beweeg, ruimtereisigers na ‘n reis van ‘n paar maande op die aarde sou kon terugkom, en vind dat baie jare intussen hier verloop het. Teen die snelheid van lig, sou tyd teoreties heeltemal stilstaan in ‘n soort ewigdurende hede. Vir die fisika is tyd dus ‘n relatiewe, indien nie heeltemal irrelevante, konsep nie[30] .

Die Nuwe fisika en ‘n transendente werklikheid

Dit blyk duidelik uit die resultate van die Nuwe fisika dat ons in ‘n heelal bestaan wat ons slegs baie beperk waarneem deur ons bekende vyf sintuie. Ons bekende sintuie verleen vir ons toegang tot drie fisiese dimensies (hoogte, breedte en diepte). Ons denkvermoë laat ons ook die subjektiewe illusie ervaar van ‘n vierde “dimensie” naamlik tyd. Dit sou beredeneer kon word dat ons vyf sintuie evolusionêr ontwikkel het om daardie aspekte (of dimensies) van ons werklikheid waar te neem wat enigsins vir ons fisiese oorlewing noodsaaklik was. Die bestaan van dimensies waartoe ons sintuie op bowe-atomiese vlak geen toegang verleen nie, is egter nie meer onder dispuut nie.

Volgens Paul Davies is die idee van “parallelle dimensies” ‘n konsep wat baie naby is aan wat in godsdienstige taal as die “geestelike werklikheid” beskryf en deur die mensdom se godsdienste oorgelewer is. Die toepassing van ontdekkings van die Nuwe fisika op die verstaan van godsdienstige verskynsels is ‘n terrein wat nog grootliks onontgind is. Davies, in sy boek God and the New Physics (1983), is een van min fisici wat dit tot dusver op hierdie gebied gewaag het. Wat wel soos ‘n paal bo water staan is dat die Nuwe fisika op dinge afgekom het wat inderdaad verbasende ooreenkomste toon met universele godsdienste konsepte. Die mees prominente hiervan is dié van ‘n wêreld of dimensies “agter” hierdie waarneembare wêreld.

Nog ‘n belangrike insig van die Nuwe fisika handel oor die wesenlike aard van tyd. Daar is in die lig van die Nuwe fisika se siening van tyd as relatiewe verskynsel, en minstens uit teoretiese hoek, min fout te vind met die idee dat vorentoe en terug beweeg kan word in tyd. As tyd bloot ‘n aspek van ons ruimtelike dimensie is, en deels die produk van ons denke en bewussyn, is die bestaan en verloop van tyd ook net iets wat in ons dimensie van ruimte en tyd enige betekenis het. “Tydloosheid” is oënskynlik in die groter heelal aan die orde van die dag.

‘n Ander insig van die Nuwe fisika is die waarneming dat alles in die heelal letterlik aan mekaar gekoppel is in ‘n trillende web van energie wat alles in die kosmos deel van ‘n groter geheel maak. Die kwantum kosmologie het in een van sy interessantste uitvloeisels in die postmoderne wetenskap die deure oopgemaak vir ‘n soort “kwantum-psigologie”. Hiervolgens is menslike denke ‘n vorm van energie wat deel uitmaak van die groter kosmiese raamwerk. Ons is almal op misterieuse wyse (in ‘n groter dimensie?) in verbinding met mekaar. Dit verklaar ook die “alomteenwoordige” en “alwetende” aard van die menslike “sesde sintuig”.

‘n Laaste opmerking oor die Nuwe fisika handel oor die misterieuse invloed van die menslike brein en van ons denke op die werklikheid. Dit is lank reeds in die psigologie nagevors (en onder andere deur prominente dieptesielkundiges soos Carl Jung ook bevestig) dat die mensdom oor ‘n swak ontwikkelde “sesde sintuig” beskik (allerweë as “intuïsie” getipeer) en dat hierdie sintuig op die een of ander wyse toegang verleen tot ‘n werklikheid waarin tyd en ruimte getransendeer word[xi] . Daar bestaan ook ‘n sterk vermoede dat godsdienstige belewenisse en verskynsels soos visioene en “profesie” wat oor eeue heen gerapporteer is, met hierdie sintuig verbind kan word. Die sg. “astrale reise” deur ruimte en tyd wat in Oosterse godsdienste met meditasietegnieke en streng beheerde denkprosesse bewerkstellig word is nog ‘n goeie voorbeeld hiervan. Dit word lank reeds ook deur hierdie godsdienste gepreek dat menslike denke die enigste wyse is waarop ons in hierdie lewe toegang kan kry tot ‘n transendente werklikheid[31].

Dit is dan juis die interpretasie van data wat via hierdie “sesde sintuig” kom, wat moontlik die meeste lig nog werp op die bestaan en die aard van ‘n transendente werklikheid:

Afstandspersepsie en ‘n transendente werklikheid

In navorsing wat deur middel van Afstandspersepsie onderneem is en uit persoonlike ervaringe wat afstandswaarnemers in die loop van hul werk gerapporteer het, het bepaalde inligting na vore gekom oor ‘n transendente wêreld agter hierdie wêreld. Ons kyk vervolgens na van hierdie inligting:

As deel van sy eie opleiding in Afstandspersepsie moes prof Courtney Brown ‘n lang tyd by die Monroe instituut in Virginia in die VSA, waarvan ook vroeër melding gemaak is, deurbring. Sy eie ervaringe onder “Fokus 21” – die bewussynstoestand wat met Hemi-sync tegnologie bewerkstellig word, saam met sy opleiding in Afstandspersepsie, het van hom ‘n toegewyde “gelowige” in die transendente werklikheid gemaak. Brown vertel dat hy hier vele gekontroleerde bewyse vir so ‘n werklikheid kon versamel.

By die Monroe instituut kan navorsers in die aard van menslike bewussyn van die reeds genoemde Hemi-sync tegniek gebruikmaak om op kunsmatige wyse in ‘n alternatiewe bestaanswerklikheid “gedompel” te word. Hierdie bestaanswerklikheid is “subruimte” gedoop. Dit blyk volgens Brown dat ‘n sekere aspek van elke lewende wese in subruimte bestaan, baie soos die kiel van ‘n skip onder die water. Dit is die “koppeling” van ‘n aspek van die menslike psige aan hierdie inter-tyd en -ruimtelike dimensie wat Afstandspersepsie klaarblyklik moontlik maak. Dit sou selfs oorweeg kon word of die mistieke nie-stoflike energie wat ons “lewe” noem nie sy wesenlike bestaan in hierdie dimensie het nie. Volgens prof Brown tier dit in hierdie dimensie van “lewe”. Daar is vele gekontroleerde aanduidings gevind dat mense wat nie meer in ons tyd-ruimtelike dimensie bestaan nie, steeds in subruimte “bestaan” en dat hulle selfs met persone wat aan die navorsingsprojek deelgeneem het kon kommunikeer. Persone wat aan eksperimente deelgeneem het en gelyktydig, maar in verskillende laboratoriums onder Fokus 21 was, kon mekaar selfs in die “portaal” van subruimte “ontmoet” en agterna daaroor kommunikeer[xii] .
(Targ & Puthoff 1977, Wilber 1977 and Mavromatis 1987)[xiii] .

Samevatting en konklusie

My years of involvement as a research manager in these programs have left me with the conviction that unequivocal evidence of a human capacity to access events remote in space and time must be taken into account in any attempt to develop an unbiased picture of the structure of reality.
H. E. Puthoff, Ph.D.
Institute for Advanced Studies at Austin

In hierdie paragraaf kan ons begin om die verskillende lyne saam te vat en tot ‘n eie verstaan van die inligting voor hande te kom:
My eie pogings as wetenskaplike was tot dusver daarop gerig om die uiteenlopende wêrelde van die natuurwetenskappe en die geesteswetenskappe bymekaar uit te bring. Dit is uiteraard ‘n optimistiese opgaaf, maar in die gees van die postmoderne wetenskap se soeke na ‘n geïntegreerde verstaan van ons werklikheid beslis relevant: My Ph.D. navorsing het onder andere die hipotese ondersoek dat daar ‘n moontlike verband bestaan tussen verskynings van “hemelwesens” “gode” en “engele” wat deur eeue in godsdienstige mites en oorleweringe gerapporteer is, en die moderne verskynsel van VVV’s. Dit is so dat inligting oor dié tipe onderwerp baie kontroversieel is. Wanneer mens jou op die terrein van “esoterica” soos VVV’s begeef, het ‘n navorser konstant te make met ongekontroleerde en onkontroleerbare informasie, met wetenskapsfiksie en selfs met intensionele disinformasie. Dit alles maak dit baie moeilik vir iemand wat streng wetenskaplik te werk wil gaan.

Ek het aanvanklik die probleem probeer oorkom deur in te gaan op ‘n spesifieke outeur se agtergrond en wetenskaplike integriteit alvorens feitelike gegewens van so ‘n outeur te ernstig opgeneem is. Ek is self in ‘n baie kritiese wetenskaplike omgewing opgevoed en neem steeds ‘n baie skeptiese houding in teenoor sake soos ’n lewe na die dood, geestelike wesens, VVV’s en so meer. My kennismaking met die Nuwe fisika en later Wetenskaplike afstandspersepsie het my oortuig dat ’n wetenskaplike in ons postmoderne era werklik openheid vir hierdie nuwe inligting moet he. Die resultate van die Nuwe fisika het my as wetenskaplike baie gehelp om die brug oor te steek. Ek het agtergekom dat ons bestaande materialistiese wêreldbeeld al hoe meer ‘n struikelblok word – nie alleen vir die voortgang van die wetenskap nie, maar ook vir die spirituele ontwikkeling van die mensdom. Dit is ‘n wêreldbeeld wat ons belemmer om nuwe inligting te absorbeer en in ‘n groter verstaan van die werklikheid te integreer. Dit was vir my ook belangrik om self opleiding in Wetenskaplike afstandspersepsie te ondergaan, enersyds uit nuuskierigheid of die metode werklik werk en andersyds om inligting van my en andere se navorsing te kan kontroleer. Die resultate wat ek selfs met ‘n lae vlak van ervaring met Wetenskaplike afstandspersepsie behaal het asook die kontroleerbaarheid van die metode het my tot dusver nie alleen gerus gestel nie, maar my verwagtinge oortref.

Uit navorsing wat ekself en ander kundiges en ervare afstandswaarnemers onderneem het, kan ek alreeds begin om ‘n nuwe (kennelik voorlopige en hipotetiese) prentjie te skets van die groter werklikheid waarin ons leef. Ek wil hierdie artikel graag daarmee afsluit met ’n buitelyn skets van my huidige verstaan daarvan:

Die prosesse van evolusie het by die mens vir ons voortbestaan, bepaalde sintuie laat ontwikkel rondom drie prominente fisiese dimensies. Die ontwikkeling van ons denke en ‘n menslike selfbewussyn het ons ‘n vierde “dimensie” van tyd (wat eintlik ‘n illusie is) ervaarbaar gemaak. Dit is egter onbetwisbaar dat ons werklikheid ‘n multidimensionele een is wat ons sintuie slegs op ‘n baie beperkte wyse aan ons aanbied. ‘n “Sesde sintuig” wat op intuïtiewe wyse toegang verleen tot hierdie meerdimensionele werklikheid en waarvoor konsepte soos ruimte en tyd irrelevant is, het tydens menslike ontwikkeling of gekwyn, of dit is ‘n sintuig nog onder evolusionêre ontwikkeling. Dit is moontlik dat die wêreld se spiritualiteit die afgelope 40 000 jaar juis ontwikkel het uit die ervaringe van hierdie sintuig. Die idee bestaan al vir baie eeue dat menslike denke (minstens huidiglik) die enigste medium tot ons beskikking is om toegang te verkry tot ‘n transendente werklikheid. Daar is sonder twyfel ook ‘n kwantum-psigologiese aspek in die menslike brein wat ruimte en tyd kan transendeer en ons vermoëns gee wat ons stoutste verwagting oortref.

Die groter werklikheid waarin ons oënskynlik leef, kan dalk die beste verduidelik word aan die hand van ‘n skip wat op die water dryf: Ons bewuste self is buite op die skip en is slegs bewus van die dimensie wat bokant die water bestaan. Dit is ‘n driedimensionele omgewing wat beperk word deur ruimte en tyd. Ons sintuie is ten volle aangepas om hierdie dimensies “bo die water” waar te neem. Ons kan egter nie veel sien van wat onder die water aangaan nie – die dimensies wat ons “subruimte” kan noem en slegs as ‘n spookbeeld aan ons bekend. Ons is intuïtief bewus daarvan dat daar “iets” is, maar ons sintuie is nie aangepas om veel daarvan te verstaan nie. Ons besef ook nie dat die grootste deel van ons “skepe” onder die water bestaan nie. Nog minder besef ons dat ons onderbewuste op ‘n manier deel van ‘n groter netwerk van die hele geskape werklikheid is nie aldus Jung se kollektiewe onderbewuste of ’n dimensie wat deesdae die “superbewuste” genoem word. ‘n Deel van ons wese bestaan soos die skip se kiel in hierdie dimensie en word deur hierdie dimensie “bo” gehou. Ons eie subjektiewe onderbewustes versmelt op ’n sekere vlak met hierdie superbewuste see van energie om ons en is ons slegs daarvan bewus via die klein kanaaltjie van ons intuisie. Aan die een kant kan hierdie insigte baie baie help om te verklaar wat dieptesielkundiges soos Freud en Jung in die mens se onbewuste ontdek het[32] . En moontlik is dit die antwoord op een van die grootste raaisels in die wetenskap, nl. wat die misterieuse verskynsel is wat ons lewe noem…

Want ons ken maar gedeeltelik… Nou kyk ons nog in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos wat dit werklik is…
1 Kor 13:9, 12
—————————————————————-
Notas

1. In lande soos die VSA verwys die woord “wetenskap” (science) vandag nog byna uitsluitlik na die natuurwetenskappe. Hoewel daar in die Europese wetenskapsbeskouing ook ruimte gelaat is vir ‘n wetenskaplike bestudering van onderwerpe soos godsdiens, sosiologie en sielkunde, is hierdie domein wel deeglik van die natuurwetenskappe onderskei in wat genoem is die “geesteswetenskappe”.

2. Die meer korrekte woord is ‘n “paradigma”.

3. Wetenskaplike denke was vir eeue vasgevang in die positivistiese greep van die “modernisme”. Volgens die “geontmitologiseerde” natuurwetenskaplike wêreldbeeld (gebou op veral die aksiomas van die evolusieteorie), is die mens wesenlik ‘n diersoort en is daar geen “dieper” element in die menslike bewussyn anders as die elektro-chemiese werking van sy brein nie. Sedert hierdie opvatting begin propageer is, is die kollektiewe idees wat vir eeue deur die mens se mites en godsdienste aan hom oorgelewer is en waarin sy aard as “geestelike wese” beklemtoon is, in wetenskaplike denke geïgnoreer.

4. “Materialisme” is ‘n lewensuitkyk waarin slegs die bestaan van ‘n materiële werklikheid erken word.

5. Wetenskaplikes soos Ludwig Feuerbach, Sigmund Freud en Carl Jung het vir hulle navorsing op psigologiese gebied naam gemaak. Carl Jung is bekend vir sy navorsing oor die psigologiese oorsprong en betekenis van mitologieë. Volgens sy godsdiens-psigologiese teorie is daar “psigiese oerbeelde” (wat hy “argetipes” noem) in elke mens se “kollektiewe onderbewuste” afgedruk. Hierdie oertipiese beelde het hul oorsprong in ‘n instinkmatige (geneties oorgelewerde) “geheue” wat diep in die menslike psige bewaar is. Hy het geglo dat toegang verkry kan word tot hierdie onderbewustelike vlak deur die ontleding van mites, drome, fantasieë en psigoses. Volgens Jung projekteer en objektiveer mites, drome ens. hierdie psigiese oerbeelde by wyse van metafore as die onderbewuste se poging om uitdrukking daaraan te gee.

6. Slegs sowat 270 bladsye inligting oor die projek is vrygestel vir publikasie onder die wet tot Vryheid van Informasie. Byna al die dokumentasie oor projekte in die verband bly egter steeds geklassifiseerd.

7. ESP = Ekstra-sensoriese persepsie.

8. Die spesifieke probleem sou projekte in die toekoms baie belemmer omdat heelwat wetenskaplikes asook offisiere en politici nie betrokke wou raak nie en oortuig was dat die hele konsep “onwetenskaplike nonsense” was en ‘n tweede groep geglo het dat dit “demonies” was.

9. Die sg. Iran-Nicaragua-Oliver North fiasco.

10. Die Sowjet-unie se psigiese spioenasieprogram het gebruik gemaak van “natuurlike psigici” wat siviele individue was wat in die Russiese bevolking geïdentifiseer is. Hierdie “siviele” spioene was later vir die owerhede so problematies dat dit die projek van die USSR uiteindelik laat skipbreuk lei het.
11. Op daardie stadium van die program was daar nog nie alternatiewe opleidingsmetodes beskikbaar vir persone wat nie oor natuurlike “psigiese vermoëns” beskik het nie.

12. Daar is egter talle suggesties dat die Amerikaanse weermag voortgegaan het met die projek, maar onder nuwe streng klassifikasie.

13. Pres. Carter het in September 1985 in ‘n persverklaring aan Reuters laat glip dat die koördinate van ‘n verlore Amerikaanse vliegtuig wat in Zaire neergestort het deur psigiese spioene aan Amerikaanse spioenasie-satelliete deurgegee is wat dit nie kon opspoor nie, en dit daarna op die presiese plek gevind het. Die spesifieke geval is volgens dr Puthoff deur Pat Price waargeneem.

14. Die meerderheid intelligensie tydens die golf-oorlog is klaarblyklik nie alleen deur afstandspersepsie ingewin nie, maar inligting vanuit ander bronne is selfs daarmee gekontroleer.

15. Prof Jahn wou nooit van militêre fondse vir sy navorsingsprojekte gebruikmaak nie en het dus redelik onafhanklike navorsingsresultate gehad.

16. Skrywer se ervaring van- en opleiding in Afstandspersepsie is ook grootliks gebaseer op die navorsing en studieleiding van prof Brown.

17. Wanneer die navorsingsplan opgestel word, word daar ‘n lys van teikens geïdentifiseer waaroor inligting benodig word. Daar word dan aan elke teiken ‘n numeriese waarde toegeken. Van hierdie punt af word slegs die numeriese waarde van teikens aan die waarnemer (en dikwels ook sy monitor) oorgedra. Hierdie persone het in die meeste gevalle ook geen insae in die selektering van teikens nie.

18. Die monitor is meestal nie self teenwoordig by ‘n waarnemingsessie nie en kan die teikenkoördinate per fax, telefoon of e-pos aan die waarnemer oordra. Daar is dus nie soos by hipnose ‘n moontlikheid van leiding, voorsê of suggestie wat die kontroleerbaarheid van data in die wiele kan ry nie.

19. Omdat met spesifieke teikens gewerk word, is dit heelwat moeiliker om gebeurtenisse in die toekoms waar te neem. ‘n Waarnemer moet weet waarvoor hy soek en kan iets moeilik waarneem waarvan niemand bewus is nie. Die September 11 aanval van die Wêreld-handelsentrum sou bv. nie maklik voor die tyd met Afstandspersepsie voorsien kon word nie omdat ‘n waarnemer daardie spesifieke teiken op daardie spesifieke tydstip sou moes waarneem. Die kans vir so iets is bloot te klein.

20. In hierdie program word ‘n afstandswaarnemer as’t ware ‘n “afstandsgetuie” van die gebeure van die misdaad om kardinale inligting te voorsien oor hoe dit plaasgevind het.

21. Op 17 Augustus 2001 (kort voor die September 11 terroriste aanvalle op die Wêreld handelsentrum in New York) het ‘n span afstandswaarnemers van die Academy of remote viewing die volgende vir wêreldmarkte voorspel: “The next upcoming period up to November 2001 will be extremely choppy for the markets. Expect a radical dip in the next weeks. Major events in the Middle East are about to enfold quite dramatically. A great deal of worldwide anxiety will result. Irrational thinking and dark cruelty has purposely been trying to impose the paradigm of fear to the world… ” (Skrywer het bg. inligting via die Internet ontvang voor die veelbesproke September 11 gebeure!).

22. Leonard (Lyn) Buchanan was een van die prominente offisiere in Militêre afstandspersepsie by Fort Mead in Maryland. Buchanan het ‘n meestersgraad in Sielkunde en het as kenner van verskeie tale sedert 1974 met geklassifiseerde intelligensie-projekte van die Amerikaanse weermag gewerk. Hy was sedert 1984 by die Afstandspersepsie-program betrokke en het in 1992 uit diens van die weermag getree. Buchanan is tans betrokke by die sg. “Assigned Witness Program” wat Afstandspersepsie aanwend om die Amerikaanse polisie en speurdiens te help met die opklaar van misdaad.

23. Inligting wat via Afstandspersepsie oor VVV’s en ET’s bekend geword het, het op ‘n stadium byna die projek gekelder. ‘n Hooggeplaaste siviele politieke amptenaar wat direk onder die Sekretaris van verdediging van die Amerikaanse regering gedien het, was na ‘n hoogs-geheime inligtingsessie oor die militêre Afstandspersepsie-program se bevindinge oor ET-tegnologie en die VVV-verskynsel so erg ontsteld oor inligting wat hieroor ingewin is dat hy gedreig het om die Afstandspersepsie-program vanuit die hoogste kringe te laat beëindig. Die gedrag van die amptenaar het suspisie gewek en op navraag het hy slegs geantwoord dat niemand veronderstel was om inligting oor die onderwerp te bekom nie.

24. Prominente navorsers oor die VVV-verskynsel vermoed lank reeds dat dit nie ‘n streng fisiese verskynsel is nie. Die VVV-kundige dr Allan Hynek stel sy vermoede soos volg: “I am…inclined to think in terms of something meta-terrestrial – a sort of parallel reality…”. Prof John Mack van Harvard sê van sy navorsing oor VVV-ontvoerings dat dit hom oortuig het dat ons met ’n werklike fenomeen te make het wat nie binne die bestaande Westers-wetenskaplike wêreldbeeld verklaarbaar is nie. Hy stel voor dat die verskynsel vra om ‘n radikaal nuwe manier van dink oor die aard van die werklikheid waarin ons leef (Mack 1999).

25. Dit is ook in hierdie veld wat die skrywer se navorsing vir die International Remote Viewing Association (IRVA) onderneem word.

26. Die godsdienswetenskap kan as deel van ‘n multidissiplinêre span ‘n belangrike bydrae lewer tot die daarstel van ‘n nuwe (postmoderne) werklikheidsbeeld wat nie alleen rekening hou met die nuutste navorsing op die gebied van menslike bewussyn en die aard van die werklikheid waarin ons leef nie, maar wat ook laat reg geskied aan die kollektiewe ervaring wat die wêreld se godsdienste oor eeue hieroor opgebou het.

27. Mense soos Bernard d’Espagnat, David Bohm en Paul Davies.

28. Tyd word meestal in populêre kringe as ‘n vierde dimensie beskou, hoewel dit fisies nie so is nie.

29. Om hierdie rede beskou die meeste fisici tyd nie as ‘n aparte dimensie nie.

30. Hierdie beginsel verklaar ook waarom tyd in ervaringe van die transendente irrelevant skyn te wees en mens in godsdienstige oorleweringe so dikwels met konsepte soos “ewigheid” te doen kry .

31. Beoefenaars van Joga word lank reeds die wêreld se oudste “ruimtereisigers” genoem. In ’n boek oor “Astrale reise” word ’n Boeddhis, A. Prabhupada (1972), soos volg aangehaal: “The yogi can transfer himself to any place in the material world … If the yogi is curious to know what the moon is like, he can transfer himself there, or if he is interested in higher planets, he can transfer himself there, just as travellers go to New York or other cities on earth”. 32. Die moderne sielkunde handhaaf as modernistiese dissipline ongelukkig steeds ‘n baie eng siening van die onbewuste deur bv. te aanvaar dat menslike bewussyn slegs bestaan as elektro-chemiese prosesse binne die brein van die indiwidu en ‘n aspek van die onbewuste wat ruimte en tyd transendeer ontken.

Verwysings

[i]Inligting hier weergegee kan gevind word in die boek Cosmic Voyage van prof C. Brown en die artikel van dr H. Puthoff CIA-Initiated Remote Viewing at Stanford Research Institute.

[ii] Russell Targ het onlangs ‘n boek die lig laat sien oor sy navorsing. Die boek Miracles of mind (sic.) kon ek ongelukkig nog nie vir die navorsing van hierdie artikel opspoor nie.

[iii] Die skrywer beskik oor ‘n video-opname van oorspronklike beeldmateriaal van hierdie waarnemings. Die inligting was tot onlangs geklassifiseerd. ‘n Dokumentêre program oor die projek is deur Beyond productions (deur RJ Wells) vervaardig.

[iv] In sy boek Everybody’s Guide to Natural ESP (1991), bied Ingo Swann ‘n basiese teoretiese oorsig oor hoe en waarom Afstandspersepsie dmv fisiese geografiese koördinate werk. Lesers van hierdie werk moet egter besef dat Swann as besonder begaafde natuurlike afstandswaarnemer, self nie ‘n wetenskaplike is nie. Sy sieninge is daarom hoogstens ‘n stel waardevolle intuïtiewe idees oor die onderwerp.

[v] Sien die artikel in die Bibliografie van Puthoff (sa).

[vi] Kyk www.crviewer.com.

[vii] Die werke van Gideon Joubert (1997) en Fred Heeren (1995) bied baie goeie oorsigte hieroor.

[viii] Kyk Gideon Joubert: 229

[ix] Ander fisici wat die veelheelalhipotese op een of ander wyse aanhang is James Hartle van die Universiteit van Kalifornië, Murry Gell-Mann van die Kaliforniese Instituut vir tegnologie, die bekende prof Stephan Hawking van Cambridge, Sidney Coleman van Harvard, Alan Guth van die MIT asook die Australiese kwantum fisikus Paul Davies

[x] Sien Gideon Joubert (1997) 117- 129, 273

[xi] Vgl Cas van Rensburg (2000).

[xii] Vgl Brown (1996) bl 42v.

[xiii] Swann (1991, 73 –114) bied ‘n baie goeie oorsig in die verband.

BRONVERWYSINGS

Brown, C 1996. Cosmic Voyage: A scientific discovery of extraterrestrials visiting Earth. London: Hodder and Stoughton.

Davies, P 1983. God and the New Physics. London: J.M. Dent.

De Bruin, GS 2000. Die Antieke-Ruimtevaarderteorie: ‘n Godsdiensfenomenologiese studie. Universiteit van Pretoria: Ongepubliseerde navorsing, Fakulteit Teologie.

Ferguson, K 1991. Stephan Hawking: Quest for a Theory of Everything. New York: Bantam books.

Hawking, S 1988. A Brief history of Time. New York: Bantam books.

Heeren, F 1995. Show me God: What the message from Space is telling us about God. Wheeling IL: Searchlight Publications.

Joubert, G. 1997. Die Groot Gedagte: abstrakte weefsel van die kosmos. Kaapstad: Tafelberg-uitgewers Beperk.

Mack, JE 1994. Abduction. Simon & Schuster.

Mack, JE 1999. Passport to the Cosmos. Thorsons.

Puthoff, HE 1985. Calculator-Assisted Psi Amplification II: Use of the Sequential-Sampling Technique as a Variable-Length Majority-Vote Code,” Research in Parapsychology 1985, edited by D. Weiner and D. Radin (Scarecrow Press, Metuchen, NJ, 1986).

Puthoff, HE 1984. ARV (Associational Remote Viewing) Applications in Research in Parapsychology 1984, edited by Rhea White and J. Solfvin (Scarecrow Press, Metuchen, NJ, 1985).

Steyn, C 1994. Worldviews in Transition. Pretoria: University of South Africa.

Tipler, J 1994. The Physics of Immortality: Modern cosmology, God and the resurrection of the dead. New York: Doubleday.

Tigue, JW 1994. The Transformation of Consciousness in Myth: Integrating the Thought of Jung And Campbell. New York: Peter Lang Publishing.

Van Rensburg, C 2000. Jou drome: die onbewuste het al die antwoorde. Kaapstad: J.L. van Schaik.

H. E. Puthoff and R. Targ, “Physics, Entropy and Psychokinesis,” in Proc. Conf. Quantum Physics and Parapsychology (Geneva, Switzerland); (New York: Parapsychology Foundation, 1975).

H. E. Puthoff, R. Targ and E. C. May, “Experimental Psi Research: Implications for Physics,” in The Role of Consciousness in the Physical World, edited by R. G. Jahn (AAAS Selected Symposium 57, Westview Press, Boulder, 1981).

R. Targ and H. E. Puthoff, Mind Reach (Delacorte Press, New York, 1977).

J. P. Bisaha and B. J. Dunne, “Multiple Subject and Long-Distance Precognitive Remote Viewing of Geographical Locations,” in Mind at Large, edited by C. T. Tart, H. E. Puthoff and R. Targ (Praeger, New York, 1979).
B. J. Dunne and J. P. Bisaha, “Precognitive Remote Viewing in the Chicago Area: a Replication of the Stanford Experiment,” J. Parapsychology 43, 17 (1979).

R. G. Jahn and B. J. Dunne, “On the Quantum Mechanics of Consciousness with Application to Anomalous Phenomena,” Found. Phys. 16, 721 (1986).

R. G. Jahn and B. J. Dunne, Margins of Reality (Harcourt, Brace and Jovanovich, New York, 1987).
J. Bamford, The Puzzle Palace (Penguin Books, New York, 1983)

Puthoff H.E: CIA-Initiated Remote Viewing at Stanford Research Institute

Utts J & BD Josephson: 1996. The Paranormal: The evidence and its Implications for Consciousness
Ander

1995 “The Real X-Files,” Onafhanklike Channel 4 TV dokumentêr, Engeland, soos gebeeldsaai op die Discovery kanaal.

Next Page »